Wenke om werk te kry in 2019

Bly gefokus en hou moed

In hierdie tye van werkskaarste, wat heelwaarskynlik in die toekoms nog kan vererger, is dit belangrik om gefokus te bly, in jouself te glo en die regte soektegnieke te gebruik om ‘n werk te kry. Hieronder gee ons ‘n paar van die belangrikste reëls wat nougeset nagekom moet word, om jou kanse te verbeter. Onthou – werksoek is ‘n werk en dit vereis toewyding.

Kry jou CV in orde

Ons kry gereeld navrae om dringend te help met CV’s in die kortste moontlike tyd en dan bevat daardie persoon se CV gladnie die belangrikste inligting nie. Daardie ideale werkadvertensie kan skielik opduik en dan wil jy dadelik gereed wees met ‘n goeie, op datum professionele CV.

Dit help nie om een van die vele gratis "Resume Templates" af te laai en sommer net in te vul nie. Het jou CV die nodige impak en weerspieël dit jou persoonlikheid en oordraagbare vaardighede? Die lengte is krities, te lank of te kort, kan al die verskil maak. Het jy ‘n paar betroubare verwysings daarop? Maak ook seker van jou grammatika en taalgebruik. Onthou, spelfoute op jou CV is dodelik en diskwalifiseer jou dadelik.

Bou jou eie netwerk

‘n Netwerk is baie belangrik wanneer jy 'n werk soek. Vra almal wat jy ken, of ontmoet, of hulle weet van enige werk waarvoor jy aansoek kan doen. Vra hulle ook om jou bekend te stel aan mense wat hulle ken en wat jou kan help om werk te kry. Kry vir jou ‘n notaboek en maak notas van moontlike kontakte en hul besonderhede.

Jy moet elke dag daaraan werk

Werksoek is nie maklik nie. Jy moet elke dag werk om 'n werk te kry. Totdat jy een vind, soek werk in koerante, aanlyn, of gaan direk na besighede en gee jou CV in. Dit help nie om te sit en TV kyk nie. Werksoek is iets wat daagliks en toegewyd gedoen moet word.

Kyk waar werk is

80 persent van werksgeleenthede is in die diens- en verkoopsbedrywe soos restaurante, kleinhandel en hotelle. Wees ook op die uitkyk vir klein ondernemings wat jongmense huur en bereid is om jou op 'n intreevlak posisie te begin. As jy eers net 'n werk het, is dit baie makliker om die volgende werk te kry. Dit is jou basis - jou beginpunt.

Knap jou Engelse vaardighede op

Engels is die taal van keuse vir besighede in Suid-Afrika en die wêreld. Hoe beter jou Engels, hoe meer werksgeleenthede is binne jou bereik. As dit nie jou eerste of huistaal is nie, luister na Engelse radio- of TV stasies. Gesels met Engelssprekende persone waar moontlik. Kry blootstelling aan Engels.

Studeer verder by die top internasionale universiteite

Terwyl jy besig is om werk te soek, gebruik jou beskikbare tyd om jou vaardighede op te knap, of uit te brei. Dit maak jou nog meer bemarkbaar en verlig die spanning in jou gemoed.

Jy kan bv. ‘n aanlyn kursus by Edx loop. By Edx kan jy hoë gehalte kursusse in bykans enige rigting by ‘n groot aantal internasionale universiteite insluitende MIT, Harvard, Berkeley, The University of Texas en vele meer loop. Kursusse sluit in: rekenaartegnologie, tale, ingenieurswese, sielkunde, skryfkuns, elektronika, biologie, of bemarking.

Klik hier om'n draai op Edx se webtuiste te maak.

Wees selfversekerd

Selfvertroue laat jou uitstaan ​​bo die ander aansoekers wanneer jy vir 'n onderhoud gaan. Jy moet in jouself en jou unieke vaardighede glo.

Vrywillige werk

Vrywillige werk is 'n goeie manier om ondervinding op te doen, jou voet in die deur te kry en maak ‘n groot impak op jou CV. Jy kan bv. begin met hulp by ‘n gemeenskapsentrum, kerk, of sportklub.

Gee ‘n kontaknommer wat bereikbaar is

Gebruik slegs een slimfoonnommer wanneer jy vir ‘n werk aansoek doen. Hou jou foon te alle tye by jou en maak seker dat dit ten volle gelaai is.

Sorg dat jou plasings op die sosiale media reg is

Gaan kyk krities na jou sosiale media teenwoordigheid op Facebook ens. Maak seker dat alle plasings in goeie smaak is. Potensiële werkgewers kyk na jou sosiale mediateenwoordigheid voordat hulle met jou kontak maak. Wees dus maar bewus van wat jy op jou tydlyn plaas, dit kan ‘n groot verskil maak!

Stel vir jou ‘n LinkedIn profiel op

LinkedIn raak al hoe belangriker en word al meer deur werksagentskappe gebruik om belowende persone te bereik. Maak seker dat jou vaardighede en kwalifikasies op LinkedIn so volledig as moontlik vertoon word, die regte sleutelwoorde bevat en dat dit in jou eie naam opgestel is. Dit is ook belangrik dat jy van ‘n professionele foto gebruik maak wat jou passie, energie, empatie en ander “sagte” vaardighede, wat andersins moeilik beskryfbaar is, vertoon.

Moet nie jou e-posadres, Twitter handvatsel, of ander kontakbesonderhede weglaat in die “Contact information” afdeling nie. Baie mense vergeet dit!

Vir ‘n professionele CV, voorbereiding vir die onderhoud (interview), rekenaaropleiding en ander loopbaanhulp, kontak ons by: 072 103 1909. Ons is in Potchefstroom en indien nodig, kan jy ‘n afspraak maak vir hulp en raad om ‘n werk te kry.